Ek onthou ek het eendag gelees dat sommige ouens taal gebruik om denke te verdoesel, maar volgens my ondervinding gebruik baie meer dit in plaas van denke.
‘n Sakeman se gesprekke moet deur minder en eenvoudiger reëls gereguleer word as enige ander funksie van die menslike dier. Hulle is:
Jy moet iets te sê hê.
Sê dit.
Hou op praat.
Om te begin alvorens jy weet wat jy wil sê en deur aan te hou nadat jy dit kwytgeraak het, kan ‘n handelaar òf in die hof òf in die armhuis laat beland, en die eerste is ‘n kortpad na die tweede. Ek hou ‘n regsdepartement hier in stand , en dit kos ‘n klomp geld, maar dit hou my ten minste uit die hof uit.
Dit is goed en wel wanneer jy ‘n meisie uitneem of met vriende gesels na aandete om ‘n gesprek te voer wat soos ‘n Sondagskooluitstappie klink, met onderbrekings om blomme te pluk; maar op kantoor moet jou sinne die kortste afstand tussen twee punte wees. Sny die inleiding en die slotrede, en stop voor jy by tweedens kom. Kort preke vang sondaars; selfs diakens glo nie hulle het langes nodig nie. Gee aan stommerike die eerste en aan vroumense die laaste woord. Die vleis is altyd in die middel van die toebroodjie. Natuurlik sal ‘n smeerseltjie botter aan weerskante geen skade doen nie, veral as dit bedoel is vir ‘n man wat van botter hou.
Onthou ook, dit is makliker om wys voor te kom as om wysheid te verkondig. Sê minder as die ander ou en luister meer as om te praat; want as ‘n man nie praat nie gee hy homself nie weg nie en vlei hy die spreker. Wees vir die meeste mans ‘n goeie luisteraar en gee vir die meeste vrouens genoeg notapapier en hulle sal alles uitlap. Geld praat— maar slegs as die eienaar ‘n los tong het, en dan is sy aanmerkings altyd beledigend. Armoede praat ook, maar niemand stel belang in wat dit te sê het nie.